Die beesboer Cois Harman se monduitspoel op Facebook kan hom duur te staan kom.
Harman, wie se maatskappy Redlex 321 in 2019 gelikwideer is weens R4 miljoen se skuld aan Unigro (’n tussenganger vir die Landbank), was verlede jaar ook in die moeilikheid oor sy plasings nadat hy kwetsende, lasterlike en/of ongegronde Facebook-plasings oor die Landbank se prokureur in die saak gemaak het.
Dié prokureur, Henk Strydom, het in Junie 2022 ’n beskermingsbevel teen Harman verkry. Enkele dae later is nog ’n hofbevel uitgereik waarvolgens Harman die name, adresse en kontakbesonderhede van “almal met wie hy (sy plasings) gedeel het of aan wie hy dit op enige manier beskikbaar gestel het” aan Strydom se prokureur moet stuur.