Dis onaanvaarbaar dat Elzabie Brand (54) só dood is, sê Wikus Taljaard, haar swaer.
“Sy het ’n goeie hart gehad en dinge op haar manier gedoen. Elzabie, haar ouers en susters was baie na aan mekaar.”
Brand se lyk is Dinsdagoggend in die Takaneng-nedersetting in Taung, Noordwes, gevind nadat sy en haar ouers, Breggie (73) en Danie (83), sedert Maandag vermis is. Hulle is vermoedelik Sondag reeds op die bejaarde Brand-egpaar se hoewe naby Hartswater in die Noord-Kaap aangeval. Dis by die grens met Noordwes.