Inwoners van Kampsbaai is in twee geskeur oor die ontwikkeling van ’n vyfsterhotel op die gesogte Victoriaweg, oorkant die bekende strand van dié woonbuurt.
Die belastingbetalersvereniging van Kampsbaai en Clifton (CBCRA) dreig nou met hofaksie om ’n tussentydse interdik te bekom om die bouwerk stop te sit, hangende die hersiening van die Kaapse metroraad se goedkeuring van hierdie ontwikkeling en die prosesse wat gevolg is om die bouplanne goed te keur.
Die erf ter sprake is erf 3349 op die hoek van The Fairway en Victoriaweg. Bouwerk het reeds begin met die vorige gebou, The Place on the Bay-hotel, wat reeds gesloop is en voorbereiding wat vir die nuwe gebou gedoen word.