Die oud-Bok Pedrie Wannenburg se agtjarige seuntjie, Francois, is in ’n stabiele toestand in ’n hospitaal in Amerika nadat hy ernstige kopbeserings opgedoen het in die motorongeluk waarin sy pa gesterf het.
Die 41-jarige Wannenburg, wat in 20 toetse vir die Bokke uitgedraf het, is Vrydagmiddag dood in ’n grusame botsing toe ’n 16-jarige seun beheer verloor oor die voertuig waarin hy en twee vriende – vermoedelik ook tieners – van die polisie weggejaag het. (In Texas kan ’n 16-jarige ’n tydelike rybewys kry, maar dit bly ’n oortreding om enige passasiers jonger as 21 by jou in die voertuig te hê.)
Francois is in ’n ernstige toestand na die Texas Medical Center, sowat 30 km van die ongelukstoneel, gevlieg. Daar is aanvanklik vir sy lewe gevrees, maar dit lyk asof hy goed reageer op behandeling.