Jou baas mag nie jou verlofaansoek weier as jou siekverlof uitgeput is weens Covid-19 of enige ander siektetoestand nie. ’n Maatskappy kan egter jou verlofaansoek van die hand wys op grond van operasionele redes.
Gillian Lumb, direkteur en regsgeleerde in Cliffe Dekker Hofmeyr se afdeling vir indiensneming, sê baie maatskappye sukkel om hul sakebedrywighede weer op dreef te kry en is bekommerd oor die uitwerking wat langdurige afwesigheid van personeel op hul bedrywighede het.
Maar werkgewers mag werkers nie uitsonder wanneer hulle verlof toestaan of weier nie. “Dit is byvoorbeeld nie billik om te sê personeellede wat lank met siekverlof was, of hul siekverlof uitgeput het oor iets soos lang Covid-19, mag nié met vakansie gaan nie.