’n Kaapse kobra wat homself om ’n gordynreling gedrapeer het in die badkamer van ’n huis op ’n plaas in die Paarl en daar oornag het, is Maandagoggend deur ’n slangvanger verwyder.
Magna Smit van die plaas Hou Moed vertel Sondag omstreeks 14:00 het iets in die badkamer geval. Die slang het deur ’n venster gekom. Toe ’n borseltjie van die bad se rand afval, het haar man, Bernard, gaan kyk en besef dis ’n slang. “Hy het die deur net so toegemaak en ’n nota met die woorde ‘oppas’ vir my op die deur gelos,” sê sy.
Die slang het homself om die gordyn gedrapeer. “Daar het hy vir ure gelê. Ek het selfs op die bad se rand geklim en foto’s geneem. Hy was nie aggressief nie,” sê sy. Omstreeks 19:00 het sy gaan kyk of die slang nie dalk weer by die venster uit is nie. Die slang het toe in ’n asdrommetjie, die tipe wat ’n mens ooptrap, gelê. “Ek het die deksel oopgemaak en gesien daar kyk hy vir my,” sê Smit.