’n Boer maak ’n plan.
En dit is presies wat Dawie Mathee, hoof van die Hoërskool Lichtenburg in Noordwes, die afgelope week al doen terwyl daar geen water- en elektrisiteitstoevoer na groot dele van die dorp en die omliggende gebiede was nie. Koshuiskinders moes maar in die skool se swembad bad, al het die water ook al troebel begin word omdat ook die swembadpomp nie kon werk nie.
Teen laat Donderdagoggend is die kragtoevoer na die meeste gedeeltes van Lichtenburg herstel, maar ’n ondergrondse kabel wat na die dorp se waterwerke loop en gedeeltes van die dorp bedien, het steeds probleme gegee.