Vanjaar kon daar nie, soos vantevore, ’n groot skare buite die aankomssaal van die O.R. Tambo-lughawe vergader met die hoop om Mej. Suid-Afrika te sien nie. Weens Covid-19 beperkings moes Shudufhadzo Musida, wat op 24 Oktober as Mej. SA aangewys is, tevrede wees met lede van die media en ’n handjievol van die lughawe se personeel om haar in Johannesburg te verwelkom.
Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het Musida met ’n bos blomme ingewag om haar dag ekstra spesiaal te maak voordat sy Sondagaand na haar tuisdorp in Limpopo sou terugkeer.
Thandi Moraka, Limpopo se LUR vir sport, kuns en kultuur, was ook daar om Musida te verwelkom.