Beangste, maar ook woedend en moedelose inwoners in die weste van Pretoria het Donderdagaand opgeruk na die Hercules-polisiekantoor om optrede en beskerming teen gewelddadige betogers te eis.
“Die mense vergader nou, en dan gaan ons na die polisiekantoor om daarop aan te dring dat hulle die reg toepas sodat ons in veiligheid kan lewe,” het Ria Venter, ’n gemeenskapsleier, gesê.
Mense in woonbuurte soos Claremont en Booysens, wat onder die Hercules-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) val, was nie weer lus om met ’n angstige knop op die maag te gaan slaap nie. Hulle verwag egter dat die hel van die afgelope week weer gaan losbars.