Die lawaaierige laatnagpartytjies by die Elrido Lodge in Bloemfontein het inwoners in die Rayton-omgewing moedeloos. Ná die Macufe-partytjie Saterdagaand is daar nou weer klagte by die polisie en die wetstoepassingsafdeling van Mangaung-metro ingedien.
Lefa Tlhapuletsa, eienaar van die lodge in Ray Championstraat, sê dit is “net rassistiese wit mense wat ’n suksesvolle swart sakeman van sy kleinhoewe wil af ‘boelie’ en die wit oppergesag wil handhaaf”.
“Ek het ’n permit gehad vir die Macufe-partytjie en is gelisensieerd om konferensies en geleenthede by die gastehuis op my kleinhoewe te hou. Ek is ook ’n lid van Sapra (State Air Pollution Regulatory Agency),” sê hy.