Daar hang ’n somber gevoel oor die veld reg langs die Skierlik-woonbuurt in Louisvaleweg net buite Upington. Ysig koue nagte is verby sedert Lee-Virno van Wyk (5) net spoorloos verdwyn het. Inwoners van Louisvaleweg wat nog help om na die tingerige kind te soek, is bang om moed te verloor dat hy nog lewend gevind sal word, maar praat saggies onderlangs dat hulle nie meer so mooi weet nie.
Die polisie se berede eenheid soek met ’n span perde oor ’n wye gebied buite die oorspronklike 3 km-radius van waar die groep maats verlede Dinsdag gespeel het. Die polisie se soek-en-reddingspan, ook van Kimberley, en die honde-eenhede van Upington en Kimberley is ook in die gebied aan die soek.