Hy was glad nie bang nie.So sê Eduanne Niemand, bobaas-slangvanger van die Boland wat vandeesweek as “vreesloos” bestempel is nadat hy ’n video op Facebook geplaas het waar hy ’n geelslang (Kaapse kobra) uit ’n dam haal met die inskrywing: “Slange is maar stil dié tyd van die jaar.”
Dit wys hoe hy die dam kaalvoet inloop en die slang van ’n dobber in die dam met ’n vangstok afhaal. Daarna loop hy na die wal terwyl die slang wriemel aan die stok. Hy klim uiteindelik teen die wal op met die hulp van ’n tuinslang, met die slang steeds aan die vangstok. Die slang word dan in ’n houer gesit.
Volgens Niemand, van Boland Snake Removals 24/7, was dié episode vroeër vanjaar op ’n plaas in Wellington.