’n Organisasie wat hom toespits op perde en toesien dat hulle goed behandel word, is woedend nadat hy afgekom het op ’n merrie wat sweet-sweet ’n Ford Courier-bakkie minstens sowat 10 km op ’n perdekar moes trek.
Die merrie Violet het Dinsdag “ongelooflik hard asemgehaal” toe Liana Truter, hoofinspekteur van die Perdekar-beskermingsvereniging in Elsiesrivier op die toneel afkom nadat drie mense by hulle gekla het oor die perd wat so swaar moet trek.
Die organisasie, wat in 1995 op die been gebring is, beywer hom vir die welsyn van veral werkende perde en vra net een ding: “Moenie jou perd mishandel nie”.