Wanneer sy hoor dat volwassenes haar seksreeks saam met hul bejaarde ouers kyk en dan vir die eerste keer openhartig oor dié “taboe” onderwerp praat, gee dit haar geweldige bevrediging.
Só sê Romantha Botha, een van die aanbieders van Sex & Pleasure, ’n reeks van agt episodes wat op Showmax te sien is.
Botha, ’n TV-joernalis, en haar mede-aanbieder, Kim Windvogel, is onbeskaamd daaroor dat hulle gek is oor seks – en sê dis onnodig dat mense so sku moet wees om dit prontuit te sê. Die reeks is Botha se geesteskind en sy het gou vir Windvogel, die medestigter van FemmeProjects, ’n nieregeringsorganisasie wat spesialiseer in voortplantingsgesondheid, betrek.