Die naels is nou behoorlik uit in die bakleiery tussen Peet Viljoen – na wie daar spottenderwys verwys word as die sewende huisvrou in Die Real Housewives van Pretoria – en ’n sakevrou van Pretoria wat beweer Peet het haar ingeloop.
Happy Simelane, ’n voormalige franchise-lisensiehouer van die egpaar se sakeonderneming Tammy Taylor Nails South Africa, beweer sy het doodsdreigemente ontvang nadat sy hul “bedrogskema” in die TV-program Carte Blanche blootgelê het. Sy het die bewerings twee weke gelede op Gigi Lamayne, ’n bekende plaaslike rapper, se potgooi, Point of View with Gigi, gemaak.
Die potgooi word op YouTube uitgesaai. Peet ontken al Simelane se bewerings, ook dat hy by enige dreigemente betrokke was. Hy het aan Rapport gesê Simelane is besig met ’n smeerveldtog teen hom.