Fred Lubbe het pas die bielie van ’n swartmamba met sy linkerhand aan die stert en met sy tang aan die middellyf vasgevat, toe gaan sy koplig af.
Daar staan die 74-jarge slangvanger toe in die donker met die slang in sy hande, maar hy weet nie waar die dodelike kop is nie. Dit was ’n “senuweeagtige maar nie bang nie” twee en ’n half minute voordat iemand genoeg lig kom maak het sodat hy die werkie kon afhandel.
Jy sou dink dié noue ontkoming einde April sou Lubbe daaraan laat dink om ná 60 jaar sy slangstok op te hang. Maar dié afgetrede tuinontwerper sê sy reflekse is nog goed.