Die ministers van polisie en vervoer het “bloed op hul hande” ná herhaalde waarskuwings oor aanvalle op busse, het Intercape in die Wes-Kaapse wetgewer gesê.
Die busmaatskappy het Vrydag kommer uitgespreek dat die geweld en intimidasie van veral langafstandbusdienste wat reeds in die Oos-Kaap voorkom na sy westelike buurprovinsie kan versprei.
Dit volg nadat daar op twee Intercape-busse vandeesweek in Nyanga geskiet is en nog ’n bestuurder onlangs ernstig gewond is by die maatskappy se opslagplek in die Kaapstad Internasionale Lughawe se nywerheidsgebied.