Die ontvoerde biokinetikus Riana Pretorius (26) het eergister haar pa in die vroeë oggendure gebel en gevra hy moet haar kom haal.
Dit was nadat haar ontvoerders haar bloot langs die pad afgelaai het. Sy het verbygangers voorgekeer en ’n selfoon by hulle geleen om haar pa te bel.
Pretorius is ’n week gelede voor ’n mediese sentrum in Newton Park in Gqeberha ontvoer en aangehou. Hoewel die Valke bevestig het dat haar ontvoerders ’n losprys gevra het, is dit nie duidelik of dit betaal is nie. Haar ontvoering het die verbeelding aangegryp en ’n familielid, Ronelle Potgieter, het aan Rapport gesê Pretorius het “net ’n paar skrapies gehad” en is ongedeerd.