Lidmate van die NG gemeente Riebeeckstad op Welkom het nog in die onlangse verlede uitgeloop as ’n swart koor vir hulle kom sing het. Hulle het selfs hul tiendes teruggehou as swart mense die erediens bywoon. Maar vandag is dié gemeente ’n voorbeeld van hoe die NG Kerk van die toekoms kan en moet lyk.
’n Taakspan van die algemene sinode het die afgelope vier jaar navorsing gedoen en spesifiek vyf kerke uitgesonder wat hulself van “leliewit” gemeentes in tweetalige en multikulturele gemeentes omskep het.
Dr. Lourens Bosman, voorsitter van die taakspan, sê dié vyf gemeentes het groot kopskuiwe gemaak oor wat kerk-wees beteken en moes verskeie veranderings maak wat betref hul plaaslike betrokkenheid, die hiërargieë van hul leierskorps, die gebruik van hul geriewe en die aanwending van hul finansies. Hy het onlangs ’n voorlegging oor die NG Kerk se “Droomscenario 2030” aan kerkleiers gelewer.