Presies 107 jaar nadat genl. Koos de la Rey in ’n padversperring doodgeskiet is, is daar nou weer ’n borsbeeld van dié gevierde Boeregeneraal op sy graf in die begraafplaas van Lichtenburg in Noordwes.
Dit kom nadat ’n borsbeeld van De la Rey, wat in 1917 deur Fanie Eloff, kleinseun van pres. Paul Kruger, gemaak is, in April vanjaar gesteel is toe diewe sy graf gevandaliseer het.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het sedertdien ’n replika van die gesteelde beeld gemaak en dit is Woensdag onthul – presies 107 jaar ná genl. De la Rey se dood op 15 September 1914.