!Naba, Kalahari-truffel, Kalaharituber pfeilii – die Kalahari se mees geliefde veldkos uit sy skatkis van goue wonders.
!Naba – sê dit met ’n lekker tongklap by die uitroepteken. Maar dit is nie net ’n iets om die honger te stil nie, dit is soveel meer – dit is ’n Kalahari-leefwyse.
Toe die donker wolke sedert November vir die eerste keer in jare al donderend goeie reën na die Kalahari bring, het ’n sug van verligting uit die dorre veld opgegaan. Water het in die grond gesypel en lewe het in die duine ontpop soos daar lanklaas beleef is. Meteens was dié dankbare, wêreld wat met so min tevrede is, weer hemel op aarde. Maar teen einde Maart het die woestynbewoners stil begin asem ophou en vir die !Naba-reën gewag.