Die vrylating van Oscar Pistorius aanstaande Vrydag is nie ’n uitgemaakte saak nie. Verskeie rolspelers en faktore sal in sy guns moet tel voordat dit kan gebeur. Kenners verduidelik hoe hierdie proses sal werk, wat die kriteria vir vrylating is en wanneer hy vrygelaat sal word indien hy parool kry.
Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), sê die korrektiewe toesig-en-paroolhersieningsraad is ’n onafhanklike liggaam wat uit ’n voorsitter, ondervoorsitter, twee gemeenskapslede, ’n DKD- en ’n polisieverteenwoordiger bestaan. Hy verduidelik die oortreder moet sy volle vonnis onder die DKD se toesig uitdien.