Die polisie het Woensdagmiddag steeds gesoek na familie van die huiswerker in Potchefstroom wat ernstig beseer is toe drie pitbulls haar aangeval het.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die vrou se naam kan nie in die media bekend gemaak word voordat haar familie oor die gebeure ingelig is nie. “Sy kan nie praat nie. Ons het reeds ’n sekere adres besoek, maar niemand tuis aangetref nie.”
Die vrou (in haar 40’s) se gesig is Dinsdagoggend verskeur en sy het talle bytwonde aan die res van haar lyf opgedoen toe die honde haar aangeval het terwyl sy vermoedelik wasgoed opgehang het. Sy was alleen by haar werkgewers se huis.