Die ongelukkigheid oor die inkorting van nuusprogramme op RSG het die afgelope week ’n nuwe wending geneem toe ’n groep politieke en ekonomiese kommentators hul misnoeë uitgespreek het met die “vervlakking” van die nuusaanbod by die land se grootste Afrikaanse radiostasie.
Die groep van 16, wat bekendes soos die ekonome Dawie Roodt en Theo Venter, die politieke kenners dr. Piet Croucamp, prof. Anthoni van Nieuwkerk, prof. Dirk Kotzé, prof. Erwin Schwella en Mari Harris en die krygskundige prof. Abel Erasmus insluit, sê in ’n brief aan die stasiehoof, Louise Jooste, dat hulle bekommerd is oor die wyse waarop die stasie deesdae hul luisteraars van nuus bedien. Dit volg op Jooste se omstrede besluit om RSG se vlagskip-nuus-en-aktualiteitsprogram, Monitor, met ’n uur te verkort. Die tweede uur van die program – in die gewilde tydgleuf tussen 07:00 en 08:00 – sowel as die aktualiteitsprogram Praat saam daarna, is vervang met die nuwe ontbytprogram Op en wakker.
Die program, soortgelyk aan kommersiële radiostasies se oggendprogramme, bestaan uit meer musiek en korswel afgewissel met kort nuus- en aktuele onderhoude.