Die RSG-omroeper Johan Rademan, wat byna twee jaar lank ontken het dat hy enigiets weet van ’n motorongeluk waarin ’n tienjarige meisie voor sy huis raakgery is, sê nou hy is baie jammer oor wat gebeur het.
Rademan se verskoning aan die meisie (nou 12) het eers gekom nadat hy twee keer in die landdroshof in Bellville verskyn het op aanklagte van roekelose of nalatige bestuur. Hy het ná sy tweede verskyning aangedui dat hy bereid is om met sy bure te vergader in ’n poging om die saak te skik.
Die meisie en twee maats het op 20 Januarie verlede jaar omstreeks 18:45 by ’n stopteken in Louwstraat in Valmary Park, Durbanville, gestaan toe ’n wit Toyota RAV4 skielik by Van der Westhuizenlaan ingedraai en die meisie getref het. Sy het deur die lug getrek en hard op die teer geval. Haar enkel is beseer, haar elmboë en knieë was nerfaf en een van haar voortande het gebreek.