Dit is nog gans te vroeg om die sjampanjeproppe te laat klap, maar dit wil-wil lyk of die deure na die Chelsea-blommeskou in 2024 weer vir Suid-Afrika gaan oopswaai.
Dit is in elk geval waarvoor die land se tuinbou-geesdriftiges solank vonkelwyn op ys wil begin hou, ná die nuus die afgelope week dat ’n potensiële borg ’n uitnodiging van die Royal Horticultural Society (die RHS, wat die Chelsea-blommeskou reël) na vanjaar se skouspel aanvaar het.
Rapport verneem die RHS is desperaat om aanstaande jaar in Chelsea vir die eerste keer in vyf jaar weer plek te los vir ’n Suid-Afrikaanse uitstalling, en het dus ’n groep belanghebbendes gevra om ’n borg te vind wat sy gewig en beursie agter so ’n inisiatief sou gooi.