’n Harde sementagtige aanpaksel het gelei tot die ineenstorting van die skoorsteen van eenheid 1 van Eskom se splinternuwe Kusile-kragstasie.
Eskom het Woensdag, tien dae ná die voorval, eers bekend gemaak dat twee eenhede van Kusile in Mpumalanga buite werking is weens die voorval. Eenheid 1 sal waarskynlik maande lank buite werking wees en eenheid 2 voorlopig as voorsorgmaatreël.
Dit ontneem die land van 1 600 MW se opwekkingsvermoë in ’n tyd van reeds verlammende kragtekorte. Daarbenewens is eenheid 4 van Medupi sedert ’n ontploffing in Augustus verlede jaar buite werking nadat Eskompersoneel voorgeskrewe prosedures geïgnoreer het. Gesamentlik verteenwoordig die afwesigheid van die drie eenhede meer as twee fases van beurtkrag.