Die soektog na Van Reenen Olivier (17), wat Dinsdag by Kakamas in die Oranjerivier verdwyn het, het Vrydagoggend tragies geëindig.
Personeel en kampeerders van die Khamkirri-ontspanningsoord, sowat 30 km van waar Van Reenen by Swartbooisberg in die malende watermassa verdwyn het, het ’n lyk in die rivier sien dryf. Hulle het die eienaar, Danie van Zyl, ontbied.
Van Zyl en Frans Hendrik Burger, wat deel van die soekspanne was, het met ’n kajak uitgegaan en Van Reenen se lyk by ’n klein eiland net voor die Augrabies-waterval gekry.