Die eerste paar skooldae by ’n laerskool aan die KwaZulu-Natalse suidkus is ontwrig nadat ’n swartmamba in een van die klaskamers opgemerk is.
Klasse by die Olwasini Junior Primary School in aMahlongwa is van Woensdag onder bome aangebied terwyl slangvangers gesukkel het om die slang van 2 m lank op te spoor.
Martin Rodrigues, bestuurder van die Crocworld-bewaringsentrum in Scottburgh, wat die slangvangers gestuur het, sê die slang is eers Vrydag in een van die klaskamers gevind.