’n Slangvanger van Bloemfontein se rustige Sondag het in aksiebelaaide riller ontaard toe sy buurman hom uit die Kaap bel en sê hy sien op sy veiligheidskameras dat sy honde laer trek om ’n slang in sy erf.
Stephan Fourie, ’n gebiedsbestuurder van die chemiese maatskappy Sika en ’n professionele slangvanger, het nie op hom laat wag nie en die 5 km van sy huis na dié van sy buurman Johnny Coetzee in Bainsvlei afgejaag.
Hier gekom het hy deur die geëlektrifiseerde heining drie honde gesien, en nie die vier wat Coetzee op sy veiligheidskameras gesien het nie. By hulle was ’n dooie molslang.