Koos Pienaar (72), stadsraadslid en leierboer van Theunissen wat baie jare die voorsitter van die nasionale Melkprodusente-organisasie (MPO) en Melk SA was, het Maandag die stryd teen Covid-19 verloor.
Pienaar is Maandagoggend laat in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorlede. Hy was nege dae in die hospitaal en kon moontlik ’n beroerte gehad het, wat sy gesondheid verder kon laat versleg het, sê sy seun Monte, ’n merinoboer van Theunissen.
Pieter Möller, van die Noordwes-Universiteit en ’n voormalige hoofbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê die landbou en die gemeenskap van Theunissen het met Pienaar se dood letterlik en figuurlik ’n reus verloor. Hy het nie net langer as 2 m in sy skoene gestaan nie, hy het sy plek in die landbou en gemeenskap behoorlik volgestaan.