’n Houtkis met die lyk van ’n straatkind is glo na die tronk gebring nadat die veroordeelde verkragter en moordenaar Thabo Bester “lank aan sy ontsnapping beplan het”. Minstens vier werknemers van die Mangaung- korrektiewe sentrum buite Bloemfontein, ’n maksimumveiligheidsgevangenis wat deur G4S bestuur is, het hom hiermee gehelp.
Dié bewerings word gemaak deur ’n voormalige gevangene wat die afgelope week met Netwerk24 gepraat het. Hy beweer hy was ’n selmaat van Bester.
Die vier G4S-werknemers – hul name is aan Netwerk24 bekend – is volgens ’n bron met kennis van die ondersoek by die tronk geskors en afgedank. Tot dusver het G4S amptelik nog net bevestig dat drie werknemers geskors en afgedank is.