Die Matie op wie se eiendom Theuns du Toit na bewering geürineer het, weier om verder aan die tugverhoor in die nadraai van die voorval deel te neem.
"Daar is vrae by ons oor die objektiwiteit van die paneel," het Nomonde Gxilishe, Babalo Ndwayana se regsverteenwoordiger, Woensdag op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) gesê.
Die tugverhoor van Du Toit sou Woensdag begin het, maar teen 12:30 het Ndwayana en sy regspan by die Admin A-gebou uitgestap en gesê hy gaan nie verder daaraan deelneem nie. Hy sou tydens die verhoor getuig het.