Verheug, opgewonde en emosioneel.
Dié emosies het Vrydagoggend deur Michaney de Wet se gemoed gemaal toe sy die nuus kry dat die hof Medihelp voorlopig verplig om alle medisyne en ander behandeling goed te keur wat haar seun se dokters vir sy seldsame siektetoestand voorskryf.
De Wet sê die driejarige Zachary se pediaters het reeds begin om peperduur medisyne vir die behandeling van sy oorerflike toestand te bestel. Die Pretoriase kleuter ly aan mukopolisakkaridose-tipe 2, ook bekend as Hunter-sindroom. Dit kom in een uit sowat 100 000 tot 170 000 seuns voor.