Hy is bly sy seun se moordenaar gaan lewenslange tronkstraf uitdien en glo hul geliefde Mohamed weet die familie het enduit deurgedruk om toe te sien dat geregtigheid geskied.
Farouk Dangor het die familie se emosies Vrydag so met trane in sy oë in die rondgaande hof in Klerksdorp, Noordwes, verwoord. “Die vonnis sal nie ons kind terugbring nie, maar die feit dat geregtigheid geskied het, help ons om afsluiting te kry.”
Dangor en sy twee dogters, Zeenat en Tasneem, het adv. Riekie Krause, die staatsaanklaer, ná die vonnisverrigtinge omhels. Krause sê sy is dankbaar die Dangor-familie kan nou berusting kry. “Ek is bly ek het drie dae lank (suksesvol) geveg om te verseker dat kringtelevisiemateriaal van die skietery op die slagoffers as getuienis in die hof toegelaat word.”