Sy het nog altyd moesies op haar lyf gehad. Toe sy dus ’n moesie op haar regterskouer kry wat ’n bietjie groter as die res gelyk het, het dit haar aanvanklik nie gepla nie.
Maar in Mei 2021 toe Anika de Beer (29), voormalige weeraanbieder van eNuus en eNCA, na ’n dermatoloog is oor die einste moesie, is fase 3-melanoom by haar gediagnoseer.
De Beer, wat deesdae in Mosselbaai bly, sê die nuus oor die kanker het haar en Abri, haar man, heeltemal onkant gevang. Hulle het toe in Kaapstad gewoon.