Terwyl Excelsior se inwoners Dinsdag ’n optog gehou het oor die gevaarlike pad tussen Excelsior en Tweespruit, het ’n bakkie Maandagoggend by Petrusburg omgeslaan nadat hy ’n slaggat getref het. En toe slaan skelms toe en stroop die voertuig van sy enjin.
Tbo Ketele, hoofsameroeper van die besorgde inwonersgroep van Mahlatswetsa, en Tshepo Lebuso, sy adjunk, sê hulle het Dinsdag ’n vreedsame optog oor die haglike pad tussen Excelsior en Tweespruit gehou.
“Sowat 60 inwoners het ’n beswaarskrif wat deur 365 inwoners geteken is, oorhandig aan afgevaardigdes van William Bulwane, LUR vir polisie, paaie en vervoer. Dit sluit in Rorisang Seate, hoofingenieur van paaie en infrastruktuur, Thola Mosianedi, hoofingenieur, Gerhard van Rensburg van die afdeling padonderhoud en ander.”