’n Vrou van Kaapstad wat al jare lank in die mediese bedryf oorsee werk en in Oktober 2022 in Georgië in Oos-Europa in hegtenis geneem is, kan vir tussen 8 en 15 jaar tronk toe gaan as haar naasbestaandes nie teen 17 April ’n boete van R465 000 betaal nie.
Genevieve Uys (33) is in Oktober verlede jaar in hegtenis geneem toe sy op ’n sakebesoek in die land was as ’n internasionale invitrobevrugtingsfasiliteerder deur haar sakeonderneming, Travelling Donors. Sy is in hegtenis geneem omdat sy voorgeskrewe medisyne in haar besit gehad het vir ’n mediese toestand waarvoor sy wel voorskrifte gehad het.
Dit is aan die owerhede uitgewys, maar hulle het nie daarop ag geslaan nie, sê haar ma, Sandi Uys.