’n Weduwee wie se man in ’n motorbotsing gesterf het, moes by Liberty hoor sy lewenspolisse van meer as R10 miljoen gaan nie uitbetaal word nie omdat hy nie verklaar het hy ly aan angs en het ’n maagseer gehad nie.
Nicholien Martens (41) moes agt maande lank baklei. Ná prokureursbriewe, ’n klagte by die langtermynversekeringsombud én navrae deur Rapport het Liberty Vrydagmiddag bes gegee en gesê hulle sal die polisse uitbetaal.
Willem Martens (33) was ’n vervoermakelaar met twee ondernemings in die Lichtenburg-omgewing in Noordwes. Hy het ten tyde van sy dood op 5 Augustus verlede jaar R16 000 per maand aan paaiemente vir die twee polisse betaal sodat sy vrou van die afgelope 12 jaar en dogter, Lika (6), versorg sou wees indien hy iets oorkom.