Die voortdurende gesny aan sy jaarlikse begroting dwing die reeds sukkelende weermag om nou van derduisende soldate oor die volgende paar jaar ontslae te raak, het Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, Donderdagoggend in ’n parlementêre antwoord gesê.
Sy erken daarin ook dat dit ’n groot impak op die weermag se vermoë gaan hê om voortaan sowel die land se soewereine en territoriale integriteit te verdedig as om sy streek- en kontinentale verpligtinge na te kom.
Helmoed-Römer Heitman, ’n militêre kenner, meen hoewel die weermag sy personeel in sy opgeblase hoofkwartier en militêre gesondheidsdienste sonder enige skade kan sny, sal dit ’n impak hê as die leër se soldate verder verminder word, omdat hy reeds ’n tekort van tot 10 000 soldate het.