Hy gee nie om wat ’n paar internet-trolle sê van die rokke wat die Mej. SA-finaliste verlede Saterdagaand by die kroningsplegtigheid gedra het nie. Die meisies het mooi gevoel en pragtig gelyk, sê Werner Wessels, kreatiewe direkteur van die skouspel.
Van die kommentaar van sy kritici was dat die rokke soos iets uit die sirkus lyk, dat die kleure te helder was en dat dit hopeloos te veel vel gewys het.
Wessels sê die doel van die rokke was om maksimum impak te hê. Ná ’n paar rondes met meer besadigde uitrustings wou hy die aand afsluit met ’n viering van kleur, sê hy.