So dankbaar was inwoners van vier aftreeoorde in George vir die brandweer se hulp nadat ’n verwoestende brand naby die oorde onder beheer gebring is, dat hulle Vrydag ’n geselligheid gehou het om die brandbestryders te bedank.
Die brand op 18 Mei digby die vier Groenkloof-aftreeoorde is aangeblaas deur ’n noordwester wat 80 km/h gewaai het. Bome oorkant die aftreeoorde het afgebrand en slegs ’n teerpad het in ’n stadium die inwoners en die vlamme geskei.
Die brand het ook kragvoorsiening beïnvloed, maar die elektrisiteitsvoorsiening is later weer herstel. Leon van Wyk, George se burgemeester, was tot laataand op die brandtoneel.