Brandspanne was Maandag steeds op die toneel van brande by Agter-Vinkrivier in die Robertsonvallei, asook die Kammanassieberge naby Uniondale.
Albei dié brande het weens weerlig ontstaan.
’n Brand by Pêrelvallei in die Paarl is ná twee dae ten volle in bedwang gebring, volgens inligting van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM). Die brand het onder meer die naweek na aan die gesogte Val de Vie-landgoed gewoed, waar bekendes soos Ryk Neethling woon. Die landgoed het Maandag by navraag gesê dit brand glad nie meer nie. Daar blyk ook geen skade aan eiendom in die landgoed te wees nie. Die gebied is Maandag gemonitor.