Twee mediese kenners het hul kommer uitgespreek oor die manier waarop die regering die afgelope 18 maande die Covid-19-pandemie ingevolge die nasionale ramptoestand bestuur.
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het die naweek die ramptoestand, wat sedert Maart 2020 geld, ingevolge die Wet op Rampbestuur met nog ’n maand tot 15 Desember verleng.
Dr. Jo Barnes, epidemioloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, en dr. Aslam Dasoo, sameroeper van die progressiewe gesondheidsforum, het die regering gekritiseer oor die “ondeursigtige wyse” waarop die nasionale bevelsraad besluite neem.