Al neem die weeklikse getal oortollige sterftes sedert middel-Desember af, is die totale getal sedert die begin van die pandemie meer as drie keer hoër as die amptelike Covid-19-dodetal.
Oortollige sterftes is die verskil tussen die waargenome dodetal in ’n bepaalde tydperk en die verwagte dodetal in dié tydperk (gegrond op vroeëre data), aldus die Amerikaanse Centers for Disease Control and Prevention.
Sedert 3 Mei 2020, toe die Covid-19-pandemie Suid-Afrika werklik begin ruk het, was daar volgens die Mediese Navorsingsraad al altesaam byna 298 000 oortollige sterftes. Hiervan was 85 000 in 2020 en 203 000 verlede jaar.