Die feit dat punte op die bord nie met ’n bier in die stadion gevier kan word nie, is pure bysaak vir stoere ondersteuners van die Vrystaat-Cheetahs wat weer vir die eerste keer daar kan gaan sit en rugby kyk.
“Ons wil net op die stadion wees en ons span ondersteun. Al die ander goed is bysake,” sê Joggie Jansen, een van die Vrystaat se groot helde, toe hy Dinsdag sy kaartjies by die Vrystaat Toyota-stadion se kaartjiekantoor kon gaan afhaal.
Sy wit trui lê gereed om weer oor die kop te trek en hy is so opgewonde soos in 1976 toe hy sy span gehelp het om die Curriebeker te wen.