Drie gesondheidswerkers kan hul lisensies kwyt wees weens klagte by die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) omdat hulle die veiligheid van Covid-19-entstowwe bevraagteken het sonder om hul vrae in wetenskaplike navorsing te grond.
Die RGB waarsku gesondheidspraktisyns is verplig om mediese advies en behandeling aan pasiënte te verskaf of voor te skryf wat deur bewysbare, wetenskaplike navorsing gestaaf word.
Christopher Tsatsawane, RGB-woordvoerder, sê hulle ondersoek vyf klagte deur die publiek van onprofessionele gedrag teen drie praktisyns dat hulle nie dié verpligting nagekom het nie. Dit sluit drie klagte in teen dr. Susan Vosloo, ’n voorste hartchirurg, wat in Augustus op ’n aanlyn vergadering gesê het Covid-19-entstof hou ’n groter risiko in as die siekte self.