Danksy Reach for a Dream is daar ’n vyfjarige meisie in Grassy Park, Kaapstad, wat te midde van die staat van inperking haar hart kan uitspeel met haar nuwe speelgoed.
Die kanker akute limfoblastiese leukemie is in Mei verlede jaar by klein Safiyyah Ebrahim gediagnoseer.
Haar grootste droom terwyl sy in die Rooi Kruis-kinderhospitaal was, was om haar eie poppe te kon gaan koop. Die Reach for a Dream-stigting, wat hom daarvoor beywer om die drome van kinders met lewensbedreigende siektes waar te maak, en Toys R Us & Babies R Us Suid-Afrika het kragte saamgespan om dit te bewaarheid.