Die Gautengse gesondheidsdepartement is met 78 hofbevele gedwing om altesame R228 miljoen vir mediese eise uit te betaal.
Die bedrae wissel van R7 301 vir ’n saak van 2014, en die grootste bedrag was R18,1 miljoen, ook van daardie jaar. Die oudste saak, vir ’n bedrag van R8,99 miljoen, dateer van 2013.
Dié inligting is deur Nomathemba Mokgethi, LUR vir gesondheid in Gauteng, in die provinsiale wetgewer verskaf in ’n skriftelike antwoord op vrae van Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in die provinsie. Bloom sê dis ’n skande dat die departement gedwing moet word om die eise uit te betaal.