Die aappokkevirus, wat vroeër dikwels in groot getalle in Wes- en Sentraal-Afrika-lande voorgekom het, maar nou ook na Amerika, Kanada, Australië en Europa versprei, is nog nie in Suid-Afrika aangemeld nie, sê die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).
“Die implikasies vir Suid-Afrika is dat die risiko vir die verspreiding van aappokke ’n werklikheid is. Die lesse wat uit Covid-19 geleer is, illustreer duidelik dat uitbrekings in ’n ander deel van die wêreld vinnig ’n bekommernis kan word,” waarsku prof. Adrian Puren, Nios se uitvoerende direkteur.
Meer as 140 gevalle is tot dusver geïdentifiseer in 15 lande waar dit nie gewoonlike voorkom nie. Dit sluit in Amerika, Brittanje, Australië, België, Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Israel, Nederland, Portugal en Spanje.